1ste Sondag in Gesprek van 1 Maart 2026 op die Fanie Myburgh YouTube Kanaal Livestream: Fanie Myburgh het met Deon Hanekom oor God, Geld en jou Goed gesels. Kyk die volledige livestream hier.
‘n Eerlike, oop gesprek oor finansies, finansiële gewoontes en hoe God ons geld en goed sien.
Maak ons geld en goed vir God saak?
Maak dit vir God saak wat ek met my geld en goed doen of is tiendes en offerandes genoeg? Dit is ‘n onderwerp waaroor Christene nie noodwendig graag praat nie omdat dit redelik privaat en persoonlik is. Het jy al ooit daaraan gedink hoe God jou wil seën, as jy net jou geld en goed bestuur op God se manier. Hy wil hê dat ons ‘n lewe in oorvloed moet lewe, maar jy moet besluit: Gaan ek God vertrou of gaan ek myself vertrou? Wil ek my eie seëninge probeer bewerkstellig, of wil ek op God se seëninge vir my lewe vertrou?
Die Feite

- Jesus het meer oor geld gepraat as wat Hy oor die hemel of hel gepraat het.
- Die helfte van al Jesus se gelykenisse maak melding van geld.
- ‘n Derde van Jesus se gelykenisse en stories deel met beleggings.
- In die Bybel is daar soveel beloftes oor finansies, maar dit het voorwaardes.
- ONTHOU: God verwag nie almal op aarde moet miljoenêrs wees nie – ook nie dat ons almal uitermatig ryk moet wees nie.
- Jesus prys wyse beleggers en kritiseer slegte beleggers. Hoekom? Want die lewe is ‘n toets en die lewe gaan oor vertroue.
Hoekom is geld ‘n toets?
STELLING 1️⃣: Gierigheid
Jesus sê in Lukas 12:15:
“Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”
Die lewe gaan ie oor hy wat die meeste besittings het nie. Die persoon wat sy lewe lank gebruik het net om goed te vergader, het sy lewe gemors. Jesus sê jy gaan niks van hierdie goed saam met jou neem wanneer jy sterf nie. Hy het jou nie op die aarde geplaas om goed op te gaar nie. Die waarde van dit wat jy besit en jou waarde as mens is glad nie dieselfden nie. Jou lewe gaan nie oor dit wat jy kan bymekaar maak nie sodat die goed wat geld kan koop jou nie beroof van die goed wat geld NIE kan koop nie – byvoorbeeld jou tyd, gesondheid, gesin, ensovoorts.
STELLING 2️⃣: Gebruik
Jesus sê in Lukas 16:9:
“Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige woning sal ontvang.”
Jesus sê GEBRUIK die oneerlike mammon… Jy het dit (geld, goed, mammon) nie lief nie, jy dien dit nie, jy aanbid dit nie – jy GEBRUIK dit! Jy gebruik die geld wat God jou mee seën en wat Hy tot jou beskikking stel, om ‘n verskil te maak in Sy Koninkryk. Jy doen dit deur te help met die uitreiking na mense wat nog nie die Here ken nie, om by te dra met Bybel vertaling, sending, kerkplanting, maatskaplike hulp, ensovoorts. Deur hierdie dinge te doen het jy deel in die groot opdrag (Mattheus 28:19-20) en sodoende gebruik jy dit wat God jou mee geseën het hier op aarde en jy maak ‘n belegging vir jou toekoms in die hemel.
STELLING 3️⃣: Betroubaarheid
Jesus sê in Lukas 16:10:
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.”
As jy nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal dan ware rykdom aan jou toevertrou? As jy met ‘n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan jou gee om as jou eie te besit? So, as jy nie betroubaar is met wêreldse rykdom wat God aan jou toevertrou het nie, en konstant in skuld vasgevang is, agter is met jou betalings, jy nie spaar nie, jy nie jou tiende gee nie, het jy die toets gedruip en kan jy nie verwag God moet jou vertrou met ware rykdom in die Hemel nie.
STELLING 4️⃣: Dien
Jesus sê in Lukas 16:13b:
“Julle kan nie God en mammon dien nie.”
Jesus lê klem op die woord DIEN en bedoel daarmee dat geld nooit gedien mag word nie. Geld moet gebruik word en nie lief gekry word nie.
Ons leer 2 waarhede uit die vier stellings:
Geld is ‘n hulpmiddel om gebruik te word sowel as ‘n toets en geld is ‘n geestelike dissipline.
1. Geld as HULPMIDDEL en TOETS
Geld toets 5 dinge in jou lewe…
God gebruik geld om jou dankbaarheid te toets, jou geloof te toets, jou prioriteite te toets, jou waardes te toets en om jou karakter te toets.
2. Geld as GEESTELIKE DISSIPLINE
Die bestuur an geld is ‘n geestelike dissipline en meer belangrik as wat jy besef.
Jy mag dink jy het nodig om geld te bestuur sodat jy nie in skuld is nie of jy moet net jou geld bestuur sodat jy ‘n gemakliker lewe kan lei. Daar is niks met hierdie gedagtegang verkeerd nie, maar die beginsel van geld is belangriker as net hierdie twee dinge.
Die Bybel sê geld is ‘n geestelike dissipline wat God gebruik en as jy nie verantwoordelik is met aardse rykdom nie, wie gaan jou vertrou met die ware rykdom in die hemel?
Hoe moet ek my finansies bestuur?
Daar is soveel meer verse in die Bybel wat handel oor die finansiële bestuur van geld, en die meeste kom uit die Spreuke van Salomo. Koning Salomo was ‘n man na God se hart en die slimste en rykste man wat ooit geleef het. So, hierdie is nie raad wat iemand uitgedink het nie – hierdie is finansiële gewoontes van die rykste en slimste man wat ooit geleef het. God het dit belangrik geag om Salomo se wysheid en finansiële kennis in die Bybel te sit sodat ons daaruit kan leer.
8 Spesifieke Gewoontes vir Finansiële seën
(BELANGRIK!!! Implementeer en pas die gewoontes toe in die presiese volgorde!)
1️⃣ Vertrou God as jou BRON en VOORSIENER
Die bron van jou inkomste is nie jou beroep nie, maar God. Jou beroep is nie jou voorsiener nie, maar slegs die kanaal wat God gebruik om vir jou te voorsien. Het jy al daaroor gedink – God is nie net die Bron en Voorsiener van jou finansies nie, maar ook jou Sekuriteit. Dus, as jy sekuriteit wil hê, moet jy jou vertroue plaas in God wat nooit van jou af weggeneem kan word nie! Jy kan enige dag jou werk, spaargeld of huis verloor – selfs die mense waarvoor jy lief is. Dit is net die ONVOORWAARDELIKE LIEFDE VAN GOD wat nooit van jou af weggeneem kan word nie. So dit maak sin om nie jou sekuriteit te plaas in hoeveel geld jy in die bank het of jou ander bates nie, maar in die liefde van God.
Dink mooi daaroor… As jou sekuriteit in iets ander is, wat is die gevolge daarvan? Bekommernis! Bekommernis is die waarskuwingslig dat jy op iets anders as God vertrou vir jou sekuriteit en voorsiening. Romeine 11:36 sê “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid.” Alles behoort aan God en Hy LEEN dit aan jou terwyl jy hier op aarde is. Dan sê Spreuke 16:3 “Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.” Wat beteken dit om jou voornemens aan die Here oor te laat? Eerstens, as jy wil hê God moet jou seën in alles wat jy doen, plaas Hom dan eerste in alles wat jy doen. En tweedens, as jy wil hê God moet jou finansies seën, moet jy Hom eerste in jou beroep, jou huwelik, finansies, tyd en gesondheid plaas. Dit is ‘n daad van vertroue, maak nie saak wat jy doen nie – jy vertrou God as jou Bron en jou Voorsiener.
2️⃣ Doen jou werk as ‘n daad van AANBIDDING
As jy God se finansiële seën op jou lewe verlang moet jy jou werk doen as ‘n daad van aanbidding. Dit maak nie saak wat jy doen nie – enige vorm van werk, hoe belangrik of onbelangrik die samelewing (of jy dalk self) dit mag sien – dit is meer as ‘net ‘n werk’. Doen dit asof jy dit vir God doen.
Die Bybel sê wat ookal ons doen, moet ons met ons hele hart doen! Sommige mense se hart is nie in hul werk nie en sukkel om dit met entoesiasme te doen en hulle kan skaars met hul kollegas oor die weg kom. Indien dit waar is in jou lewe, vra jouself die vraag af: “Dien ek regtig die Here deur my optrede?” Indien jy dit nie kan verander nie, moet jy dit oorweeg om van werk te verander. Die lewe is te kort om iets te doen waarin jou hart nie is nie.
Nou vra ons ‘n belangrike vraag:
Wat is die 5 eienskappe wat teenwoordig moet wees sodat God ons werke kan seën?
- God seën beplanning. Lukas 12:21 – “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie..” Die Bybel waarsku teen hom wat sy planne maak en nie God se doel in ag neem nie. Dit was die geval in Lukas 12:16-21 met die ryk man wat rykdom vir homself vergader het.
- God wil hê jy moet inisiatief neem. Spreuke 24:4 – “‘n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm; dit is vlyt wat ryk maak.” God wil hê ons moet hard werk en inisiatief neem. God seën nie luiheid nie. So wat sê dit vir ons? Hou op wag vir jou skip om in te kom en begin om uit te swem na jou skip toe. Jy moet inisiatief neem en maak dat dinge gebeur.
- God seën integriteit. Spreuke 16:11 – “Die norme vir die wegspraak kom van die Here af; Hy bepaal die maatstawwe.” As jy wil hê God moet jou finansies seën, moet jy eerlik wees! Dit beteken jy betaal jou belasting en jy bedrieg niemand nie. Onder geen omstandighede sal God ooit oneerlike wins seën nie!
- God seën fokus. Spreuke 12:11 – “Wie sy grond bewerk, het volop om te eet; wie hom besig hou met nuttelose dinge, het nie verstand nie.” Jy spring nie elke nou en dan tussen verskillende werke rond nie en jaag elke idee wat in jou kop kom na nie. Fokus en wees doelgerig.
- God seën volharding. Jy gee nie op sodra dinge begin moeilik raak nie – jy volhard! Jy hou aan en probeer weer en weer. Die meeste dinge in die lewe is nie onmiddellik suksesvol – of selfs die eerste keer suksesvol nie.
3️⃣ Hou goeie REKORD
As jy nie weet wat is die stand van sake in jou besigheid nie is daar alreeds ‘n ramp oppad! 1 Korinthiërs 16:2 – “Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie plaasvind as ek kom nie.” Hierdie gedeelte sê jy moet van jou verdienste eenkant sit en jy kan nie bepaal hoeveel jy eenkant kan sit as jy nie goeie rekord het van wat in jou finansies aangaan nie.
4️⃣ Gee die EERSTE 10% van jou inkomste TERUG AAN GOD
Spreuke 3:9-10 – “Vereer die Here met offerandes uit alles wat jy besig dan sal jou skure oorvol wees.” Die doel van offerandes is om te wys jy plaas God EERSTE in jou lewe en dit bevestig dat jy jou dankbaarheid en vertroue vir jou hele lewe in Hom plaas.
5️⃣ SPAAR en BELÊ vir die toekoms
Spreuke 21:20 – “In die woning van ‘n wyse mens is daar altyd kosbare besittings en olie; ‘n dwase mens bring sy goed deur.” ‘n Wyse Man spaar vir die toekoms terwyl ‘n dwaas alles wat hy verkry verteer. Vra jouself elke keer as jy iets wil koop: “Het ek dit WERKLIK nodig?” Indien nie, moenie dit koop nie! Die Bybel sê dat spaar en belê ‘n teken van wysheid is. Die probleem is dat die meeste mense finansieël sukkel want hulle werk vir hulle geld in plaas daarvan dat hulle geld vir hulle werk. Hulle werk hulle hele lewe om skuld terug te betaal.
Spreuke 13:11 sê “Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak word ryk.” Dit is nie hoeveel ons spaar nie, maar die feit dat jy GETROU bietjie vir bietjie elke week of maand spaar en jou belegging sal met tyd groei. En dan sê Spreuke 24:17, “Sit eers jou werk buite aan die gang daarna kan jy jou huis bou.” Dit beteken dat jy eers terug belê in jou besigheid, persoonlike finansies of ‘n belegging wat jou geld sal laat groei in plaas daarvan om ‘n groter huis, ‘n nuwe voertuig of ander luukshede aan te skaf wat nie jou geld gaan laat groei en vir jou ‘n groter inkomste op die langtermyn genereer nie. Deur ‘eers jou werk buite aan die gang te sit’ werk jou geld ewe sielik vir jou deur groter profyt te genereer in plaas daarvan dat jy harder daarvoor werk.
6️⃣ Stel vir jouself ‘n DOELWIT om jou skuld so gou moontlik te vereffen
Daar is verskeie teksverse wat ons leer oor skuld. Romeine 13:8 sê :”julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.” God wil hê jy moet SKULDVRY kom sodat jy nie meer in slawerny moet lewe nie en kan ontvang wat Hy vir jou in stoor het. Spreuke 27:7 sluit daarby aan, “Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen.” As jy altyd net die minimum terugbetaling doen op jou skuld, boer jy agteruit!!!! Vereffen jou skuld so gou as moontlik om skuldvry te kom. Dit is die heel beste belegging wat jy kan doen! Sny jou kredietkaart op en betaal dit so vinnig moontlik af. So ook jou groot skuld. Kom so gou moontlik skuldvry. Dit is die heel goedkoopste!
Jy vra waarskynlik, “Wil jy vir my sê ek moet eerste my offergawe gee en spaar voordat ek my skuld betaal?” Ja! Dis presies net so. Hoekom? Want jy het God se hulp nodig om skuldvry te kom! Iemand het vir John D Rockefeller gevra hoe hy so ryk geword het. Sy wantwoord was: “Ek gebruik die 10/10/80 plan. Ek gee eerste my 10% aan God, dan betaal ek myself 10% wat ek spaar. Dan gebruik ek 80% om van te lewe.” So as jy sê, “ek kan nie van 80% lewe nie”, leef jy bokant jou vermoë. As jy gaan wag tot jy skuldvry is om te spaar, gaan jy nooit spaar nie. Dit maak nie saak hoeveel jy spaar in die begin nie. Kom net in die roetine om te spaar! Jy sal sien dit raak al hoe makliker soos jy jou geld sien groei.
7️⃣ Jy MOET ‘n begroting hê
Spreuke 21:5 – “Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.” So wat is ‘n begroting? Dit is ‘n plan hoe jy jou inkomste gaan spandeer. Jy beplan waar jy wil hê jou geld heen moet gaan vooraf in plaas daarvan om na die tyd te wonder waar jou geld heen is.
Wat beteken “maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek?” Dit beteken as jy oorhaastig optree met jou geld, gaan jy altyd in skuld wees. Bemarkers en adverteerders weet dit en hulle gaan uit hul pad om by jou ‘n behoefte te skep vir iets wat jy nie eers geweet het jy nodig het nie, tot jy die advertensie gesien het. Het jy al ooit gewonder hoekom is al die lekkergoed op die rakke om jou as jy in die ry staan om te betaal? Hulle maak dit vir jou so maklik om impulsief iets te koop wat jy andersins nie sou gekoop het nie.
8️⃣ Jy moet WAARDEER wat jy het en MEDEDEELSAAM wees
1 Timotheus 6:18 – “Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam.” God vertruo ons in klein dinge om te sien of Hy ons met groot dinge kan vertrou. Kan God jou vertrou om ryk te wees? Wees dan ryk in goeie dade, wees vrygewig en mededeelsaam met die geld wat Hy aan jou toevertrou het. Het jy in jou verlede bewys hoe God jou kan vertrou? Indien nie, dan is dit tyd om betroubaar te raak!
Is jou finansies huidiglik ‘n getuienis dat jy dit bestuur volgens Bybelse beginsels?
Daar is baie mense wat sekeres van die 8 beginsels hier bo onderhou, maar die geheim is JY MOET ALLES ONDERHOU en nie net dit wat jy voel belangrik is nie. Dit is ook noodsaaklik dat jy dit in die presiese volgorde onderhou.
Dit is ‘n feit dat skuld ‘n baie groot probleem is, en soveel mense is vasgevang daarin, maar jy moet vashou en vertrou aan dit wat Jesus sê in Sy Woord. Moenie bekommer wees nie, jou Hemelse Vader weet alreeds wat jy benodig en Hy sal dit vir jou gee – dis ‘n belofte! En, as jy Hom eerste stel in jou lewe en jy volgens Sy wil vir jou lewe leef – dit is die voorwaarde – sal Hy jou help om skuldvry te kom. Wanneer jou finansies bestuur word volgens die Bybelse beginsels wat ons bespreek het, bewys jy aan God Hy kan jou vertrou met wat ookal Hy goed dink om jou mee te vertrou en dat jy Hom eerste plaas in jou lewe.
Vergelyking tussen SKULD en SPAAR
Jy begin werk op 25 en tree af op 65 jaar. Jy werk dus 40 jaar.
SCENARIO 1: Kredietkaart skuld van R20,000. Jy betaal altyd net die minimum verpligte terugbetalingsbedrag van 5% per maand maar gebruik weer wat jy betaal, so die R20,000 kredietkaart skuld bly konstant. Jy betaal ongeveer 20-25% rente op jou kredietkaart, afhangende van jou profiel. Oor die 40 jaar tydperk het jy R500,000 spandeer aan R20,000 kredietkaart skuld en dan het jy steeds die R20,000 skuld wanneer jy aftree.
SCENARIO 2: Jy maak nie skuld nie maar spaar die R1,000 per maand in ‘n gewone spaarrekening. Vir 40 jaar spaar jy elke maand net R1,000. Oor 40 jaar het jou spaargeld na R2 miljoen gegroei. (Sou jy dit in beter beleggings plaas met ‘n hoër % rente inkomste kan dit soveel meer groei).


Leave a Comment